Inisiatief om plattelandse gemeentes te ondersteun

Written by danie on . Posted in Algemeen

Die NG Kerk in Wes-en-Suid-Kaapland het ‘n plattelandse ondersteuningsinisiatief geloods.  Prof Jurgens Hendriks het in ‘n eerste rondte 8 klein plattelandse gemeentes besoek en oor hulle bedieing gesels.

Uit hierdie gesprekke het verdere gesprekke gevloei, en ‘n daglange konferensie word nou beplan om klein plattelandse gemeentes te bemagtig.

Lees prof Hendriks se insiggewende verslag oor sy eerste besoek.

Klein gemeentes as FAMILIE-grootte gemeentes

Written by danie on . Posted in Algemeen, Verslae

Die gewildste beskrywing waarmee tussen verskillende soorte gemeentes onderskei word, is dié van gemeente-grootte. Die model werk met erediensbywoning en gaan uit van die veronderstelling dat die kultuur en struktuur van gemeentes wissel na aanleiding van die grootte daarvan. Volgens Alice Mann (1998) kan daar vier groottes gemeentes onderskei word. Dit kan as volg opgesom word:

Tabel: Vier groottes gemeentes

 

Pastor-gesentreerd PastoraalErediensbywoning: 70-200Leraar: Pastor

KR: Herders

Homogene verhoudinge

 

KorporatiefErediensbywoning: >350Leraar: Visiedraer

KR: Strategiese leiers

Komplekse verhoudinge

 

Groep-gesentreerd FamilieErediensbywoning: 25-100Leraar: Familie-vriend

KR: Patriarge en matriarge

Homogene verhoudinge

 

ProgramErediensbywoning: 150-350Leraar: Toeruster

KR: Bedieningsleiers

Komplekse verhoudinge

 

Organisme

Organisasie

 

Beskrywing van die familie-grootte

Volgens Mann se tipologie  is klein gemeentes (stedelik of plattelands) organismes wat meer relasioneel as struktureel in homogene verhoudinge verbind is, en groep-gesentreerd.  ’n Klein gemeente is ’n familie met patriarge en matriarge wat in beheer is.  Hulle is sterk op oorlewing ingestel, en laat hulle dus nie sommer deur die kerkverband sluit nie.  Nuwe lidmate word deur ’n komplekse proses van sosiale aanneming ingesluit. Net soos by gewone families, word jy deel van die familiesisteem slegs deur óf geboorte óf aanneming.

Predikante se rol is om dié funksies uit te voer wat die lidmate nie self kan doen nie (bv. doop, nagmaal, begrawe, preek), maar die predikant wat aanneem dat hy/sy die hoof-uitvoerende beampte is, maak ’n reuse fout.  Predikante funksioneer meer in ’n kapelaansrol, sonder uitvoerende bemagtiging.  Predikante moet hierdie gemeentes daarom lief hê en vir drie jaar niks probeer verander nie.  Hoe langer die predikant bly, hoe meer invloed verwerf hy/sy en word maklik ’n bedreiging vir die patriarge en matriarge.  Daar word dus dikwels krisisse geskep om te verseker dat die dominee korter bly, eerder as langer.  Indien die leraar vir langer as vyf jaar kan bly, word egte transformasiemoontlikhede ’n werklikheid.

Volgens Mann begin baie predikante hul bediening in hierdie gemeente-grootte, maar dit is die moeilikste tipe bediening vir pas-afgestudeerde predikante.  Die geesdrif en entoesiasme van die jong dominee pas gewoonlik nie by die rolverwagting van tradisionele pastorale versorging nie. (Mann 1998)

WAARDERING VIR DIE KLEIN GEMEENTE-GROOTTE

1. Kwaliteit van lidmate

Hoewel klein gemeentes unieke sosiale uitdagings ervaar, soos deur Mann beskryf, moet daar waarderend na hierdie gemeente-grootte gekyk word.  Die kwaliteit van lidmate óók in hierdie gemeente-grootte is ’n bron van dankbaarheid. Tydens die klein gemeente-konferensie kon al die sinodes bevestigende verhale vertel van die bruikbare mense-materiaal en toewyding van lidmate in hierdie gemeentes.

2. Unieke kapasiteit

Juis vanweë hulle grootte is hierdie gemeentes in staat om:

• nabyheid en intimiteit in die geloofsgemeenskap te beliggaam;

• verhoudingsgedrewe eerder as formeel gestruktureerd te funksioneer;

• ’n daadwerklike gemeenskap-wye impak te maak; en

• ’n prominente publieke profiel deur diensbaarheid te verwerf.

Klein gemeentes is ’n wêreldwye fenomeen. Getalsgewys is waarskynlik die meeste gemeentes klein gemeentes.

3.  Verhoudinge

Klein gemeentes is verhouding-gedrewe gemeentes. Nie die charisma van die predikant, of die kwaliteit van die program, verskaf die kohesie nie. Die kohesie groei uit die kwaliteit van die verhoudinge – met God, met mekaar en met die gemeenskap. Juis hierin lê geweldige potensiaal opgesluit.

 

Volhoubare bediening: Die toekoms van klein gemeentes

Written by danie on . Posted in Algemeen

Heelwat gesprek is in die Oostelike Sinode oor die toekoms van klein gemeentes gevoer.  Dié Sinode het ‘n werksdokument saamgestel vir werkswinkels in klein gemeentes oor die toekoms van die bediening.

Die werksdokument gee ‘n greep op die unieke omstandighede, karakter en uitdagings vir klein gemeentes.  Dit help kleingemeentes om waarderend na hulself te kyk en te ontdek welke gawes die Here hulle gegee het waarmee hulle die toekoms tegemoet kan gaan.

Klik hier vir die werksdokument.

Die sinode het ook in 2005 en in 2007 verslae gepubliseer oor volhoubare in klein gemeentes.

 

‘n Bedieningsmodel vir KwaZulu-Natal

Written by danie on . Posted in Sinode

Die NG Kerkfamilie in KwaZulu-Natal het op ‘n inspirerende wyse hul visie vir ‘n apostoliese bedieningsmodel vir die toekoms van die kerk beskryf.  Dit is duidelik dat bestaande bedieningsmodelle ons in die toekoms nie altyd gaan help nie.

Luister wat sê hulle verslag:

Een van die identifiserende eienskappe van die NG Kerk familie is haar hoogs opgeleide predikante/evangeliste. Min ander denominasies het dieselfde vlak van teologiese en Bybelse opleiding vir hulle leiers. Dit is ononderhandelbaar vir die kerk, ook in die nuwe model.

Hierdie hoogsopgeleide leiers maak egter die kerklike strukture baie duur, veral binne die arm gemeenskappe van KwaZulu-Natal. In die nuwe model word voorgestel dat gelowiges/leiers vanuit die gemeentes opgelei word vir gespesialiseerde bedieninge. Die rol van die hoogsopgeleide predikante/evangeliste verander. In plaas daarvan dat hulle self die meeste bedieningstake behartig, word hulle nou die opleiers/mentors van die gelowiges/leiers.

Gelowiges word vanuit die gemeente geïdentifiseer en word goed opgelei. Elke gelowige spesialiseer in slegs
een of twee aspekte van die bediening volgens sy/haar geestelik gawes. Sommige sal opgelei word as predikers, ander as pastorale werkers, ander in leierskap/gemeentebou, ander as jeugwerkers, ander as evangeliste/ sendelinge, ander as kleingroepleiers, ens.  Die verskillende opgeleide gelowiges/leiers in die gemeente vorm saam ’n bedieningspan wat al die bedieningstake behartig wat tans deur ’n predikant gedoen word. In plaas van een opgeleide predikant wat die meeste van die werk moet doen, is daar nou ’n opgeleide
span wat meer effektief kan bedien.

Lees gerus die volledige verslag.

Teologiese besinning oor die verarming en veroudering van gemeentes

Written by danie on . Posted in Algemeen

Die Sinode van KwaZulu-Natal het intensief navorsing gedoen oor die verarming en veroudering van gemeentes.  Hulle was veral in die teologiese redes hiervoor geïnteresseerd.

Die verslag sê:

Waar bevind ons onsself? Het die NG Kerk impak op die omgewing? Het ons ‘n genesende invloed op ons buurt/distrik? Lê Jesus Christus se voetspore vandag stééds elke markplein, koffiewinkel, plakkerskamp en hospitaal vol, omdat óns,chrístene daar rondloop en nederig bedien?…. Indien Kerkwees na die wil van die Koning van die Kerk nie tot sy reg kom nie, waar lê die haakplek?

Lees gerus verder…

 

Hoe lyk die gemeentelike lewe in die NG Kerk?

Written by danie on . Posted in Algemeen

Hoewel hierdie blog spesifiek oor klein gemeentes handel, is dit interessant om ‘n oorsig te kry oor die groter prentjie van die gemeentelike lewe in die NG Kerk.

Kruisgewys, ‘n tydskrif vir predikante, het in April 2008 die hele uitgawe gewy aan die bevindinge van die laaste gepubliseerde Kerkspieëlverslag.  Die opname in in 2006 gedoen.  Lees gerus hierdie uitgawe van Kruisgewys.

‘n Nuwe opname is in 2010 gedoen, waarvan die resultate kort voor lank beskikbaar behoort te wees.

Waar woon die lidmate van die NG Kerk?

Written by danie on . Posted in Verslae

Waar woon die lidmate van die NG Kerk? Meer as die helfte (55%) van die lidmate van die NG Kerk woon in voorstedelike gebiede en 27% woon in klein plattelandse en plattelandse streke. Lidmate in buitengewone gemeentes het afgeneem van 9% in 2000 tot 3% in 2004. Die kategorie is by die stedelike gemeentes in die 2006 opname gevoeg, aangesien die meeste van die gemeentes deel van naburige gemeentes , veral in stedelike gemeentes geword het.

Kerkspieël, die gereelde opname van die NG Kerk oor sy eie bedieningsituasie, gee ‘n duidelike prentjie.  Klik hier om ‘n opsomming van die ruimtes waar NG lidmate woon, te sien.

Ouderlinge opgelei vir prediking

Written by danie on . Posted in Sinode

Die Oos-Kaapse Sinode het ‘n innoverende opleidingsmodel geskep waarvolgens ouderlinge wat vir dié doel afgesonder word, opgelei word om eredienste te lei en die prediking waar te neem.

Die ouderlinge word spesifiek vir hierdie doel bevestig, en opgelei aan die hand van ‘n kursus wat deur die Oos-Kaapse Sinode ontwikkel is.  In die eerste jaar van opleiding is meer as 200 persone opgelei.  Hulle kom uit gemeentes wat menslik gesproke nooit weer predikante sal kan bekostig nie.  Danksy hierdie model van geestelike versorging kan hierdie gemeentes voortbestaan en hul roeping in hul gemeenskappe uitvoer.

Groter gemeentes maak ook van die toerusting om lidmate toe te  rus om bidure te lei, bv. by die werk of op die plaas.  Ander skep nuwe geloofsgemeenskappe aan die hand van ‘n toegeruste ouderling.  In Port Elizabeth kom ‘n nuutgestigte groep elke Saterdagaand bymekaar om erediens te hou.  Die groep sal hopelik in ‘n gemeente ontwikkel.  Die kerkplanter is ‘n ouderling wat toegerus is om die eredienste te lei.

Klik hier vir die Oos-Kaapse beleid waarvolgens hierdie ouderlinge aangewend word.  Die opleiding is beskikbaar vir ander sinodes.

Verslag aan Algemene Sinode 2011

Written by danie on . Posted in Verslae

‘n Taakspan, bestaande uit verteenwoordigers van al tien sinodes van die NG Kerk het in Mei 2011 vir drie dae bymekaargekom om ‘n verslag oor klein gemeentes aan die Algemene Sinode in sitting in Oktober 2011 voor te berei.

Die inisiatief is gebore uit ‘n opdrag vir navorsing oor klein gemeentes deur die Algemene Sinode van 2007.

Die produk is ‘n omvattende verslag waarin:

  • klein gemeentes omskryf word,
  • gepraat word oor die gepaste teologiese raamwerk waarin die bediening van klein gemeentes verstaan moet word
  • verhale vertel word oor betekenisvolle innovering in klein gemeentes
  • verduidelik word hoe die kerkverband klein gemeentes kan bystaan, en
  • voorstelle gemaak word oor hoe die bediening in klein gemeentes bevorder kan word.

Dit is ‘n hoopvolle verslag.  Waar klein gemeentes daarin slaag om uit ‘n institusionele raamwerk na ‘n roepingsgedrewe bediening te skuif, met ‘n diep konneksie aan die plaaslike gemeenskap, is daar ‘n blink toekoms.

Klik hier vir die volledige verslag.

Van institusioneel na missionaal

Written by admin on . Posted in Missionaal

Hoe daar oor die kerk gedink word, wat die rol van lidmate is, hoe ‘n mens dink oor leierskap, wat die rol van die predikant is, bepaal in ‘n groot mate hoe ‘n mens dink oor ondersteuningstrukture en sisteme in die kerk.   Die werklikheid van klein en kleinerwordende gemeentes en die bediening op die platteland noop die kerk om nuut te besin oor die bediening in gemeentes.   Gemeentes moet gehelp word om binne ’n nuwe bedieningsparadigma te funksioneer, waarin daar nuut gedink moet word oor kerkbegrip en bediening in gemeentes. Die skuif wat gemaak moet word, is weg van die tradisionele geïnstitusionaliseerde kerk na ‘n missionêre (verhoudingsgedrewe) kerk.

Kalender

August 2016
M T W T F S S
« Oct    
1234567
891011121314
15161718192021
22232425262728
293031